Die dag voor Kersfees

Ek het besluit om vandag my eerste inskrywing te maak. Ek wou al ‘n hele ruk terug begin het, maar vandag vind ek eers die woorde. 

 Met Kersfees wat môre is, sit en verlang ek weer ons dogtertjie. Vir meeste mense is die dag voor Kersfees ‘n opwindende dag. Laaste minuut inkopies word gedoen en kosvoorbereidings begin. Vir ander is dit net die begin van ‘n ander tipe nagmerrie wat hul in hul binneste ervaar. 

Dit sou môre haar eerste Kersfees gewees het. Ek wonder hoe sy sou lyk, of sy al sou kon regop sit en kruip. Ek wonder hoe sy sou giggel en of sy al die ornamente van die Kersboom af sou trek. My hart is in trane en soos ek my gedagtes in woorde verander voel ek hoe die trane nie wil ophou vloei nie. 

Ek is in stukke, vir myself en vir ander. Nooit sou ek myself kon indink om deel te wees van hierdie groep ouers nie. Stilgeboorte is ‘n nagmerrie. Ek dink om ‘n kind te verloor verander jou menswees. Nie net op die dag wat dit plaasvind nie, maar elke dag daarna vir die res van jou lewe. 

Vandag huil ek nie net oor ons dogtertjie nie, maar ek huil vir myself. Ek huil vir my man. Ek huil vir my ouers en skoonouers wie ‘n kleinkind verloor het. Ek huil vir elkeen wie geraak is deur die stilgeboorte van ons dogtertjie. Ek huil ook vir elke liewe mens wie al ‘n kind aan die dood moes afstaan. Of ek hulle ken of nie, my hart huil vir hulle. Party van ons het al jare of selfs maande gehad om ons tragedies te verwerk, maar ek weet ook vandag is dag een of twee vir sommiges. Alhoewel ons al maande gehad het en sommige mense voel ons dit nou al beter moes kon hanteer of selfs al oor dit moes wees, voel dit steeds soos dag een vir my. 

Ek hoop om op 24 Desember 2020 terug te kyk na hierdie inskrywing en dankbaar te wees dat ek hierdie dag oorwin het. Ek hoop om terug te kyk en te weet dat ek sterker is as wat ek vandag is. Ek hoop om te sien dat ek iemand anders dalk net minder alleen laat voel het. 

Dis moelik, maar ek het steeds so baie om voor dankbaar te wees. 

Dis net vir nou, vir nou wil ek myself toelaat om te huil. Toelaat om te skree. Toelaat om kwaad te wees en nie te glo dat daar ‘n rede of doel is dat hierdie gebeur het nie. Vir nou wil ek myself net indink aan hoe perfek my lewe sou wees as ek haar hier by my gehad het. Vir nou wil ek net weer rou en vergeet van alles waarvoor ek dankbaar kan wees. 

Vroer het ek op die radio gehoor dat ons minister van gesondheid verskillende hospitale môre gaan besoek om alle Kersfees baba’s te verwelkom – ek hoop net tussen deur hierdie viering van nuwe lewe, sal daar ook ondersteuning gegee word aan die wie môre met hartseer oorval word.  

Geseënde Kersfees,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s